H A L O The Art of Lights
to Home page to About page to Lights page to Spaces page to Extras page to Catalogues page to News page to Contact page
 
NEWS Die Burger, 20 Oktober 2004 deur Helen Schöer

Verlig met prettige kuns

Nadya Glawé was 'n sukkelende kunstenaar wat uit grafiese ontwerp 'n bestaan gemaak het totdat sy lig gesien het. Helen Schöer was by haar ateljee in Buitenstraat.

Foto's: YUNUS MOHAMED - Nadya Glawé het met groot sukses haar kunswerke in ligte begin verander. Die skoon materiale kontrasteer met die ruwe muur.

"EK het nog altyd graag met skoon media soos metaal, perspex en fotografiese materiaal gewerk. My kunswerke kan seker beskryf word as hangende beelde," sê Nadya.
"Maar dis moeilik om in Suid-Afrika 'n bestaan uit kuns te maak. Daar is maar 'n beperkte aantal galerye en mense wat kuns koop.
" 'n Vriend wat 'n nagklub op Stellenbosch wou oopmaak, het my so drie jaar gelede gevra - hy het my kuns geken - om vir hom 'n lig met perspexvlakke en grafika met die klub se naam op te ontwerp.
"Ek het ingestem en moes toe alles van die elektriese aspek ondersoek; hoe om die hele lig aanmekaar te kry. Dit het 'n hele nuwe veld vir my geopen."
Nadya het agtergekom mense is veel meer bereid om te betaal vir iets funksioneels as vir 'n kunswerk. En so is haar ondememing, Halo, gebore.
Woolworths het van haar mosaïekligte, met blokkies verskillende kleure perspex, vir sy winkel in Cavendish Square gekies. Die logo van een van die onderklerereekse is in viniel aan die binnekant van die perspex aangebring en met die lig wat van binne skyn, skep dit 'n silhoeët-effek.
Dit is hoe Nadya se reeks sweetie-ligte werk. Dié ligte is vierkantige, plat bokse met grafika, 'n prent of woord aan die binnekant in viniel.
Nadya sê sy het spesiaal eg Suid-Afrikaanse woorde gekies, soos "poppie", "skattie", "cherrie" "liefie", "bokkie", "stukkie", "skelm", "bliksem" en selfs 'n paar kragwoorde.
Wat beelde betref, is daar alles van 'n doekspeld tot 'n gebakte eier.
As mens moeg word van een woord of beeld, is Nadya ook bereid om die viniel-silhoeët te vervang. Of jy kan jou eie woord of beeld kies wat sy spesiaal vir jou kan maak.
So het sy byvoorbeeld 'n langwerpige sweetie-lig gemaak met 'n silhoeët van Johannesburg se stadsprofiel.
Dié verpersoonlikte ligte waar jou eie idee vorm kry, is ook besonderse geskenke.
Van haar gewildste ligte is egter die retro-reeks met organiese vorms, meestal in warm kleure soos oranje, rooi en bruin, wat tans hoogmode is.
Nadya skryf die sukses van die retro-ligte daaraan toe dat die sensuele lyne en die warm gloed van die ligte kontrasteer met die strak, skoon lyne van baie hedendaagse meubels.
Omdat van die lig ook na agter skyn, veroorsaak dit interessante effekte op mure wat met kleur geverf is. Die growwe tekstuur van kaal baksteen of klip word ook so beklemtoon. Groen of blou ligte lyk weer goed in badkamers.
Nadya werk tans aan 'n reeks kindernagliggies in die vorm van onder meer teddiebere, konyntjies, katjies, treine en narre. Dit sal 'n laewatt-gloeilamp hê.
En in haar eie huis?
"Ek het twee eenvoudige wit sweetie-ligte met 'n wolksilhoeët baie laag teen die muur aan weerskante van my bed aangebring. Dis baie prakties, want jy kan dit nie omstamp nie en dit verskaf genoeg lig om by te lees."
In haar sitkamer het sy 'n langwerpige geel sweetie-lig sondersilhoeët wat 'n kersliggloed aan die vertrek verleen.

Download PDF